MEDIA VERKLARING

26 MEI 2003

ROOVLEISABATTOIRVERENIGING

SA VLEISVEILIGHEIDSTANDAARDE: ‘n GEMEENSKAPLIKE BELANG

PRIORITEITE, RESOLUSIES EN BEROEPE

Die meer doeltreffende toepassing van vleisveiligheidstandaarde, groter samewerking tussen rolspelers wat verantwoordelik is vir en betrokke is by die maak en toepassing van sodanige maatreëls en verskerpde verbruikersbewustheid is drie deurslaggewende prioriteite wat onlangs deur die Rooivleisabattoirvereniging (RVAV) by díe organisasie se jaarkongres in Somerset Wes op die Suid-Afrikaanse publieke agenda geplaas is. Rooivleisverbruikers – en die rooivleisindustrie in die algemeen – behoort kennis te neem van wat daar gesê en besluit is by die konferensie wat deur abattoireienaars, regeringsamptenare en verteenwoordigers van onafhanklike vleisindustrie organisasies bygewoon is.

Die abattoirbedryf van Suid-Afrika is verantwoordelik vir die omskakeling van lewendehawe na vleis; ‘n proses wat van deurslaggewende belang vir veilige en voedsame verbruikersprodukte is. Die Vleisveiligheidswet (wet 40 gepromulgeer in November 2000) spel maatreëls uit wat veiligheid van vleis en diereprodukte verseker en wat algemene en deurslaggewende nasionale standaarde in abattoirs waarborg. Gedurende die drie-dae lange konferenesie het RVAV afgevaardigdes oor ou en nuwe prioriteite en belange besin. Daar is weereens kennis geneem van die feit dat voedseloordraagbare siektes steeds een van die mees ernstige publieke gesondheids- risikos in die wêreld is (een van die mees belangrike gesondheidsaangeleentheid naas MIV/VIGS.) Die implementering van ‘n amptelike deregulasieproses in die bedryf gedurende die afgelope ongeveer tien jaar het nuwe uitdagings en realiteite opgelewer en kongresgangers het --- aan die hand van die tema “vleisveiligheid is ons Erns”– die belangrikste aangeleenthede en prioriteite geïdentifiseer wat nou daagliks op vleisveiligheidstandaarde in Suid-Afrika ‘n invloed het en wat dus dringende aandag verlang. Daar is besluit dat:

1. Die spoedige implementering van die Vleisveiligheidswet van 2000 van uiterste belang is en dat eers wanneer hierdie maatrëels afdwingbaar is en doeltreffend toegepas word, verbruikers en bedryfrolspelers gerus kan voel oor:

  • Onafhanklike vleisinspeksie
  • Essensiële nasionale standaarde
  • Higiëne evalueringstelsels
  • Toepassing en monitering van regulasies

2. Die RVAV onderneem om die Departement van Landbou in alle opsigte van hulp te wees. In hierdie verband sal een van die eerste stappe ‘n aanbod van die Vereniging wees om magtiging te ontvang om namens die departement ‘n nasionale databasis met abattoirstatistiek daar te stel. Daar is voorts besluit dat hoewel daar reeds ‘n konsultatiewe verhouding tussen die bedryf en die staat ingevolge die bogenoemde wet bestaan, groter samewerking en meer doeltreffende kommunikasie aangemoedig behoort te word.

3. Die befondsing van die rooivleidbedryf het gedurende die afgelope twee jaar veelbesproke aandag geverg. Die beheer oor statutêre fondse en die insameling hiervan by verskeie punte in die produksieketting was problematies en uiteenlopend. Die RVAV – as die grootste bydraer tot sodanige statutêre heffing – het ‘n resolusie aangeneem in gevolge waarvan ‘n vrywillige bydrae vanaf geregistreerde abattoirs versoek word ten einde die befondsing van SAMIC vir 2003 te onderneem. Daar is ook ooreengekom dat die Vereniging die Vleisindustrietrust sal nader met die versoek om die aansoek om ‘n statutêre maatreël oor te neem. Die Rooivleisprodusente Organisasie (RPO), die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente Organisasie (SAVPO), die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging (SAVV), die Association for Meat Importers and Exporters (AMIE) en die South African Hide and Leather Council (SHALC) en andere sal versoek word om die die aansoek te ondersteun. Daar sal gepoog word om die proses binne sestig dae te voltooi. Fondse wat by wyse van sodanige heffings ingewin word sal onder meer aangewend om knelpunte in die industrie aan te spreek wat reeds ‘n uitwerking op markuitbreiding en –ontwikkeling, die monitering van klassifikasiestandaarde en algemene standaardmonitering het.

Die Vereniging het besluit om die kwessie van moontlike Namibiese heffings op beweging van diere, wat ‘n nadelige uitwerking op die Suid-Afrikaanse vleisbedryf mag hê, na SAMIC te verwys met ‘n dringende versoek vir toepaslike optrede wat handelooreenkomste tussen die twee lande kan beskerm.

4. Vleisverbruikers in Suid-Afrika moet aangemoedig word om meer aandag aan die veiligheidsstandaarde van die produkte wat hulle koop te gee. Die RVAA doen ‘n beroep dat daar by vleisverspreiders aangedring word vir bewyse dat hul vleis van geregistreede abattoirs afkomstig is. Verbruikers kan van veilige, voedsame produkte verseker wees deur op te let vir die goedkeuringmerke wat veiligheid en kwaliteit waarborg.

RVAV BESTUUR

Die volgende persone is as raadslede gedurende die kongres verkies:

  • Wes-Kaap
Mnr Gerrie Oberholzer
  • Vrystaat
Mnr Piet Snyman
  • Mpumalanga
Mnr Mark Tecklenburg
  • Limpopo
Mnr Kobus Venter
  • Noord-Wes
Mnr Johan Hanekom
  • KwaZulu Natal
Mnr Ray Sidey
  • Noord-Kaap
Mnr Wessel van Wyk
  • Oos-Kaap
Mnr Barry Swart
  • Gauteng
Mnr Lou Campher
  • Koöpteerde lede
Prof C M Veary (UP)

 

Mnr Faan Conradie (Namibië)

Mnre Gerrie Oberholzer en Lou Campher is onderskeidelik herverkies as voorsitter en vise-voorsitter.

In sy aanbieding van die Jaarverslag het die Hoofbestuurder van die RVAV, Dr. Gerhard Neethling, die aandag op die betekenisvolle vordering gevestig wat daar – deur middel van opleidingsprogramme -- met vleisveiligheidswaarborge gemaak is. Sodanige programme word ooreenkomstig die oogmerke van die Vakvaardigheid en verwante wetgewing aangebied. Voorbeelde sluit onder meer in die implementering van opleidingskursusse in higiënebestuurstelsels spesifiek vir die abattoirbedryf, VIGS fasiliteringsprogramme, die ontwikkeling van kwalifikasies in abattoirprosesse en die roetine opleiding van 1500 abattoirwerkers.

In sy sluitingsboodskap het die Voorsitter, Mnr Gerrie Oberholzer, die onderneming van die abattoirbedryf herbevestig om veilige, voedsame vleis aan die Suid-Afrikaanse verbruiker te voorsien.

Die RVAV Jaarverslag is vanaf 1/6/2003 op die volgende webruimte beskikbaar: rmaa.co.za

Hierdie verklaring is uitgereik deur die Voorsitter van die RVAV, Mnr Gerrie Oberholzer.

Vir enige navrae kontak asb.:

Hoofbestuurder: Dr. Gerhard Neethling (012 349 1238/9/ manager@rmaa.co.za )